DEBATSKOMPETISIE VIR LAERSKOLE

Die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie vir laerskole vind weer in 2025 by ons gasheerskole in samewerking met ons mediavennote plaas.

AfriForum se doel met hierdie debatskompetisie is om aan laerskoolleerders die geleentheid te gee om hul voete te vind in die kuns van onvoorbereide debatvoering. Verskeie streeksuitdunne word deur die jaar gehou en die finaal vind in Oktober 2025 in Centurion plaas. Die wenspanne van elke streek dring deur na die finaal, waar die uitkloprondtes en die Dink of Sink- nasionale finaal plaasvind ten einde die land se beste onvoorbereide laerskooldebatteerders aan te wys.

Elke wenspan ontvang opwindende pryse!

Kontak debat@afriforum.co.za om te bevestig wat die maksimum aantal spanne is wat in jou streek kan inskryf.

  • Die spanne van drie kan inskryf deur die Inskrywingsvorm te voltooi.
  • Elke streek se sluitingsdatum is een maand voor die kompetisie.
  • Die debatte sal op die gekose datum by die gasheerskool plaasvind en die galageleentheid in die skoolsaal.
  • Die programme word per streek uitgewerk en sal vooraf aan die skole gestuur word.

Die formaat van onvoorbereide debat

  1. Leerders neem in spanne van drie deel.
  2. Die spanne bestaan uit graad 6- en 7-leerders.
  3. Die spanne wat in die top vier van die ranglys val, dring deur na die halfeindronde. Wendebatte word bepaal deur die puntestaat.
  4. Die debattering geskied slegs in Afrikaans.
  5. Die onderwerpe word nie vooraf aan die deelnemers voorsien nie aangesien die debatte onvoorbereid is. Die onderwerpe sal nie buitengewone algemene kennis van die leerders vereis nie en sal binne hul ervaringsveld wees.
  6. Die voorsitter verskaf die onderwerp aan die spanne. Spanne neem voor die onderwerp bekendgemaak word, deel aan ’n loting wat bepaal watter span praat VIR die onderwerp en watter span praat TEEN die onderwerp. Daarna kry beide spanne vyf minute voorbereidingstyd. Elke spreker kry dan ’n twee en ’n half minute se praattyd – eers die eerste spreker van die inleidende span, dan die eerste spreker van die opponerende span, gevolg deur die tweede spreker van die inleidende span, ens. Dit is belangrik dat die bydraes van die drie spanlede ’n eenheid vorm. Hierna kry die spanne die geleentheid om mekaar sewe minute lank met vrae te takel, waarna die beoordelaars terugvoer van twee minute gee.
  7. Die tydhouer sal deur middel van kleurkaarte ’n aanduiding gee wanneer die gegewe tyd verstreke is.
    • Vyf minute voorbereiding: 3 min. – GROEN, 4 min. – GEEL, 5 min. – ROOI
    • Twee en ’n half minute per spreker: 1 min. – GROEN, 2 min. – GEEL, 2:30 min. – ROOI
    • Sewe minute kruisverhoor: 5 min. – GROEN, 6 min. – GEEL, 7 min. – ROOI
  8. Die voorsitter sien toe dat daar by die voorgeskrewe tye gehou word. Die voorsitter gee ook leiding aan die debat as een van die spanne of beide vasbrand op ’n punt en nie kan voortgaan nie. Onsamehangende standpunte sal ook gestop word en daar sal voortbeweeg word na die volgende standpunt of vraag. Hierdie is slegs van toepassing op die sewe minute-kruisverhoor tussen die twee spanne.
  9. Die eindronde van die juniors en die halfeindronde en eindronde van die seniors vind tydens die aandfunksie in die saal plaas. Hierdie debatte word deur vyf eksterne beoordelaars beoordeel. Alle beoordelaars, insluitend dié wat by uitdunrondes of die aandfunksie beoordeel, sal voortaan beoordelaars wees uit die Dink of Sink-beoordelaarsnetwerk.
  10. Die gehoor kry ook ’n geleentheid tydens die einddebat by die aandfunksie om vrae aan die deelnemers te stel.
  11. Leerders, personeel, ouers en afrigters moet te alle tye besef dat hierdie kompetisie fokus op vrye debatvoering. Dit leer ons deelnemers ’n kosbare vaardigheid en die kompetisie moet te alle tye in ’n positiewe gees hanteer word. Negatiewe intimidasietegnieke sal nie toegelaat word nie en die span of spreker wat hom/haar hieraan skuldig maak, sal summier gestop word.
  12. Hierdie kompetisie is nie soortgelyk aan ander debatskompetisies nie en moet ook asseblief in dié lig gesien en gerespekteer word.

Kompetisiedatums

Laerskole:

Laerskolekompetisie (by Hoërskool Montana) – 7 Februarie 2025

Beoordeelstaat

Inskrywingsvorm

Uitslae

Nasionale finaal:

Wenners 2024: Laerskool Anton van Wouw

Naaswenners 2024: Laerskool Pretoria-Oos

Video’s